Europa Toer


EUROPA TOER 2016

Na 'n jaar en 'n half, van maande aftel, toe weke, toe dae, en toe, uiteindelik... URE, het 23 van HPR se leerders, uiteindelik op die vliegtuig geklim, met kinderlike opwinding, dat ons amper lyk soos hopballetjies wat nie kan wag om gegooi te word nie, en babbelbekkies wat nooit uitgepraat kan raak, oor dit wat vir ons wag nie. Met 'n dankbare hart, 'n glimlag hemelsbreed, en 'n hart wat bokspring, styg die vliegtuig oplaas op, in die donker lug in ,gevul met helder sterre, oppad na ons volgende bestemming. FRANKRYK

Na 'n lang vlug, en bittermin slaap, is elkeen van ons reg gewees vir dit wat vir ons wag & perdfris toe die vliegtuig op hierdie nuwe kontinent land, in die asemrowende Heidelberg, Duitsland. Ons besoek die Heidelberg kasteel, en kry ons die kans om die pragtige natuur te aanskou, vanuit die vensters en balkonne van hierdie geskiedkundige gebou, wat deel vorm van 'n groot toeriste aantreklikheid, in die Suid- Westlike area van Duitsland.

Strasbourg, die hoofstad van die stad, Alsace, in die Noord- Oostelike gedeelte van Frankryk, het hierdie klein dorpie ons harte gewen, met gekleurde huisies, helder blomme buite elke vrolike venster, en landskappe wat mens na jou asem laat snak. Ons gaan loer ook vinnig in by die Strasbourg Katedraal. Hierdie katedraal, is ook die katedraal wat die tweede meeste deur toersite besoek word in Frankryk, die Notre Dame Katedraal is tans nog die Katedraal wat die meeste besoek word in hierdie omgewing. So entjie verder, bereik ons, ons volgende bestemming, Colmar. Baie dieselfde as Strasbourg, is hierdie dorpie net iewat kleiner, en die een huisie in die straat lyk elke keer net vroliker en meer kleurvol as die vorige een. Hierdie dorpie huisves 'n handjievol mense, en die gejaag van die stad, is iets wat die inwoners van hierdie dorpie nie ken nie...

Parys, die stad van liggies en liefde. Ek kan met alle eerlikheid bieg, dat hierdie pragtige stad, definitief van die mooiste geboue, riviere, landskappe en herinneringe vir elke individu sal bied. Die Eiffel toring, ons het geweet hy is groot, maar ons het nie geweet hy is só groot nie! Dit gaan my verstand te bowe, oor hoe mense so 'n mooi landmerk kon bou, sonder hedendaagse materiale en tegnologie... WOW,WOW,WOW. Die prentjie wat van bo aanskou kan word, is onmoontlik om te beskryf, en deur net woorde te gebruik, sal hierdie Eiffel toring, nooit sy volle potensiaal bereik nie... Die liggies van hierdie Eiffel toring in die aand, trek my soos 'n mot na 'n kers, so mooi is dit!

Die Notre Dame Katedraal, is so groot dat ons sukkel om die hele Katedraal in 'n foto te kon afneem, om daarmee te kom spog, so, ons moes maar foto's neem, van alle kante, sodat ons dit soos 'n legkaart aanmekaar kon kom sit hier by die huis, sodat almal hier dit kan bewonder, en vir 'n oomblik of twee soontoe te kon gaan. 'n Rustige middag saam met kosbare vriende en vriendinne, op die einste Seine Rivier is iets wat ons vir altyd sal onthou. Lekker gelag, lekker foto's geneem, en net weereens dankbaar geword. Stadig het ons ook weer verby al die pragtige geboue en landmerke beweeg, wat Parys, so mooi en aantreklik maak.

Alhoewel, ons nie almal kuns waardeerders is nie, het die Louvre Museum vir elkeen van ons, iets gebied, wat ons geinteresseer het, iets wat ons oor kan gesels. Ek gaan nie jok nie, ek is 100% oortuig dat die Monna Lisa, definitief die kersie op die koek was. Sy het toe vir ons geloer, en ek dink sy sal vir ons loer, waarheen okal ons gaan, al is dit nou in Suid- Afrika, die land van sonskyn.

Nou, ons almal is darem nou al in die Hoërskool, so ons is veronderstel om onsself te kan gedra, MAAR ook net tot iemand sê DISNEYLAND! Vir 'n dag ontsnap ons terug na ons gunstelling kinderflieks, transformeer ons amper in hierdie karakters in, en gaan bly ons vir 'n rukkie in 'n kasteel. Glimlagte waar jy kyk, 'n roomys hier, 'n lekker daar, en natuurlik 'n sagte beertjie. 'n Dag is verseker te min om alles te beleef wat hierdie "land" vir ons kan bied, maar ek sal enige dag teruggaan, Minnie, Mickey, Donald, Daisy en selfs Cruella de Ville, wag nog vir ons, ons albums kort nog elk 'n foto met elkeen van hierdie mense wat ons kinderdae met soveel opwinding gevul het.

'n Spesiale dankie gaan aan Meneer en Juffrou Botha. Baie dankie dat julle vir ons hierdie toer moontlik gemaak het, en elke oomblik daarvan saam met ons geniet het. Dankie vir al meneer en juffrou se geduld met ons, en dat julle saam met ons gelag het, en net seker gemaak het dat ons altyd gelukkig is en onsself geniet. Meneer, dankie dat meneer ons veilig tot in Johannesburg en Piet Retief toe gebring het, en nooit gekla het oor die ver pad nie, alhoewel meneer ook moeg was. Ons waardeer al meneer en juffrou se moeite. Dankie aan almal wat ook saamgegaan het, en bygedrae het tot die BESTE en ongelooflike herinneringe. Ek sal verseker hierdie herinneringe vir ewig in my hart koester, en altyd glimlag as ek dink aan die wonderlike avontuur.

Annémi Nell Graad 12C

Recent Posts
Search By Tags
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square