top of page

OUDLEERLING PRESTEER IN DIE HART VAN KOVSIELAND


Hoe heerlik is dit nie om te sien hoe die eggo’s van die standvastige grondslag wat aan elke leerling, wie met groot trots kan getuig dat hul deel gevorm het van Hoërskool Piet Retief, gebied is, steeds jare nadat hulle díe gesogte platform verlaat, as bewysstuk kan dien nie.

Daar bestaan soveel sulke suksesverhale van ons oudeleerlinge wat ons harte sal laat vermurwe en ons HPR-ingeboude borskaste sommer behoorlik sal laat swel van trots.

Een voorbeeld van só ‘n suksesverhaal, is Hannée van Blerk, (21) voormalige hoofdogter en oudleerling van HPR. Hannée se talent en passie vir akademie en sport is een van die vele positiewe dinge waarvoor sy as skooldogter onthou sal word.

Die Here het dit toe ook so beskik dat dit juis hierdie presiese kombinasie is wat sy vir die res van haar lewe as beroep sal kan nastreef. Sy bewys ook weereens dat, wanneer mens doen waarvoor mens lief is, dat sukses amper ‘n versekerde uitkoms sal wees. Hannée is tans ‘n derde jaar Fisioterapie student aan die Universiteit van die Vrystaat en is tydens ‘n glansryke prysuitdelingsfunksie van die Fakulteit van Gesondheidswetenskappe op 9 April 2018 met die Dr. W Grundill Skild vereer vir die beste tweede jaar student in Fisioterapie.

Ons as Hoërskool Piet Retief is uiters trots op ons oudleerling en wéét dat sy in haar beroepsveld nog baie lewensveranderende deurbrake gaan maak en lewens gaan aanraak en verander.

bottom of page