top of page

DIE TWEEDE VAN 4 WEDRENNE

Vanuit die Fietskamp.


Die afgelope naweek, 18 September, het 'n groep leerders Hoërskool Piet Retief verteenwoordig by die 2de been van die TWK Mpumalanga Skole XCO Liga te Lydenburg.


Die verkorte Liga bestaan uit 4 wedrenne waaraan die leerders kompeteer teen ander skole deur rondtes te ry om 'n baan (3 tot 4 km) en mekaar uit te daag. Die hoeveelheid rondtes hang van die onderskeie ouderdomsgroepe af. Alle leerders wat die wedren voltooi verdien punte vir hul skool asook individueel. Selfs die wat laaste klaarmaak verdien punte. Aan die einde van die reeks word die 2 wedrenne waarin die meeste punte verdien is vir 'n skool en indivindueel in aanmerking geneem om die algehele wenners en ook die wenspan (skool) te bepaal.


Die 1ste wedren het reeds op die 4de September te Piet Retief plaasgevind. Daar was 'n totaal van 16 skole ( laer- en hoërskole) en 185 fietsryers wat deelgeneem het. Die dag het goed verloop met baie goeie terugvoer.


Die motivering agter hierdie liga is om kinders wat andersins nie by ander sportsoorte betrokke is, span maak of presteer nie die geleentheid te gee om as 'n individu en deel van 'n span te kan deelneem aan 'n sport wat op meer as net 'n fisiese vlak bevordelik is.

Fietsry bevorder nie net fiksheid nie. Dit bou selfvertroue en bevorder emosionele, kognitiewe en psigiese ontwikkeling. Kinders wat andersins nie inskakel by spansporte of goeie balvaardighede het nie, vind veral baat by hierdie sportsoort. Leerders leer ook waardevolle waardes insluitend deursettingsvermoë, hulpvaardigheid, respek, intergriteit en goeie sportmangees aan.


Om aan fietsry deel te neem benodig 'n leerder 'n fiets (daar is heelwat goeie 2de handse fietse in die mark) wat in goeie werkende toestand is en 'n helmet.


Fietsry is 'n skool sport, hoewel nuut, en ons moedig graag leerders aan om in te skakel. Daar is baie pret aan verbonde.


Huidiglik staan Laerskool Piet Retief bo aan die laerskool ranglys en Hoërskool Piet Retief 6de onder die hoërskole, slegs 2 punte weg van 5de plek.


Die volgende wedren vind in Middelburg plaas die 2de Oktober en die laaste een die 16de Oktober op Mankele ( Nelspruit).


Daar is 6 leerders uit Piet Retief wat vir die Mpumalanga span aan die SA Kampioenskappe die 25ste September in Pietermaritzburg gaan deelneem asook nog 2 wat individueel ingeskryf het. Namens HPR wens ons hulle alle sterkte toe vir die groot geleentheid.




bottom of page