top of page

HPR REDENAARS WAS PURE TROJAANSE PERD!

Hierdie jaar se Interhoër Redenaarspan het nie die kar voor die perde ingespan nie, maar wel die perde voor die kar.

Ons skool se juniorspan, Miéke van der Walt en Angelique Steenekamp, is ons twee langbeen resiesperde wat hierdie jaar dié perdekar deur die drif getrek het. Hulle het tydens die kompetisie die algehele derde plek behaal.

Annette Rabe en Armand Lombard, ons seniorspan, het behoorlik amok gemaak hierdie jaar en was dan die wenners by die seniors. Hulle het ook die eerste en tweede plekke behaal in die seniorafdeling.

Annette het die tweede plek behaal en het dan ook die trofee vir Beste Taalgebruik by die seniorspan ingepalm. En soos dit die hoofdogter van die skool betaam het sy haar sitplek op die perdekar ingeneem en die gehoor die koninklike wuif gegee. Annette, baie dankie vir toegewyde diens wat jy aan ons skool se redenaars gelewer het. Jou plekkie gaan leeg wees in die skool se redenaarspan en ons wil jou alle sterkte toewens met jou tersiêre studies, in die wete dat jy n groot sukses daarvan sal maak.

Die drywer van hierdie span redenaars, Armand Lombard, was egter die een wat die beoordelaars en gehoor aan sy voete gehad het. Armand was net eenvoudig onoortreflik op hierdie dag en is aangewys as die beste seniorspreker. Hy was verlede jaar die beste juniorspreker en hierdie jaar die beste seniorspreker en ten spyte van hierdie prestasies, is sy mooiste karaktereienskap dat hy altyd ‘n nederige mens bly.

Die Trojaanse Pietieperd het die buurskole ongesiens binnegedring en uitgetree as welverdiende, algehele wenners van die Interhoër Redenaarskompetisie vir 2016.

Baie geluk julle vier redenaars!. Julle verdien ‘n ereplek by Hoërskool Piet Retief.

Ons bring ook sommer hulde aan al die oudredenaars van Hoërskool Piet Retief, want in die afgelope nege jaar was ons sewe jaar die algehele wenners van die gesogte kompetisie.

bottom of page