Juffrou Wilma Odendaal word ‘n Pretorianer!
Mev Odendaal was vanaf 1988 deel van die HPR-familie. Sy het begin as IT-onderwyseres en het later Wiskunde gegee. In 2006 byt die Wiskundige Geletterheid-gogga haar en word die vak haar hartsvak. Sy onderrig dit met algehele toewyding en passie. Die leerders wat by haar klas gehad het, was baie lief vir haar en sy vir hulle. Juffrou Odendaal het ‘n baie sagte plekkie gehad vir kinders waarop die lewe sy rug gedraai het. Sy het altyd die ekstra myl geloop vir al die kinders in haar klas.
Juffrou Odendaal het telkens die toekenning vir die beste onderwyser in die Gert Sibade-streek vir Wiskundige Geletterdheid ontvang – haar graad 12-groepe het uitstekend presteer! Sy was altyd baie beskeie daaroor en het nie al haar prestasies aan die groot klok gehang nie.
Addisionele Wiskunde was ook een van haar breinkinders. Sy was die dryfkrag agter die aanbieding daarvan en het dan ook vir baie jare dit aangebied. Voeg hierby dat sy ook N1, N2 en N3 Wiskunde aangebied het vir kinders wat meer in die tegniese rigting wou gaan. Sy het voorwaar ‘n reuse aandeel gehad in baie leerders se toekomsdrome en studierigtings.
Juffrou Wilma was vir jare betrokke by die skaakspanne van die skool. Sy het spanne gehad wat tot op nasionale vlak gekompeteer het. Die sportsoort het haar baie na aan die hart gelê. Sy het baie diep spore getrap wat nooit uitgewis kan word nie. Haar bereidwilligheid om orals te help, soos by die tegniese tafel van hokkie en die rekenaarwerk by atletiek, is een van haar grootste eienskappe.
Hoërskool Piet Retief se personeel en ouers wens haar net die beste toe. Mag elke dag van haar “nuwe” lewe saam met haar kinders en kleinkinders baie spesiaal wees. Pretoria is waarlik een engel ryker!
Comments